Die uitdaging, ontwikkeling en bou van ‘n sonneblom was ver meer interessant as wat ek gedink het.
Dit was toe Heleen, my vrou, ‘n plan van ‘n protea gekoop het en ons dit gesny het met laser, dat ons besef het hoe mooi dit is en kan wees om dit vir iemand te gee. Ek het dadelik aan ‘n alternatief gedink wat ons kan ontwerp en bou. Die idee om ‘n sonneblom te maak was skielik daar en die besluit om dit aan te pak het sommer dadelik pos gevat. My eerste taak was om die struktuur van die pitte na te spoor wat die basis moes vorm van daardie pragtige geel blare.
Na ‘n redelike soektog op Google was dit duidelik dat ek ‘n soort van ‘n wiskundige formule sou nodig hê om die besondere pit struktuur te kon naboots. Toe ek egter op die volgende adres af kom was alles vir my duidelik. My moed het egter in my skoene gesak en dit was duidelik dat ek ‘n ander plan sou moes maak:
Ek onthou die pitte vandat ek ‘n kind was en was nou weer absoluut geboei met die struktuur van die pitte. Deur die patroon te vectorize, het ek geëindig met ‘n klomp blokkies en kon ek deur middel van CAD elke vorm verander in ‘n twee by drie mm blokkie. Na ‘n paar uur het ek ‘n basis gehad waarin ek pitte kon skuif.
Die patroon is vir my ‘n skepping op sigself en ‘n stukkie wonder. Daarom was dit vir my goed om die patroon te kon vasvang. Die volgende probleem was die pitte. Die ontwikkeling van die pitte was vir my fassinerend en ‘n uitdaging om ten minste ‘n paar stadiums naastenby te kon vasvang.
Kyk gerus na die volgende wat ek kon opspoor:
Ek het dit reggekry om ‘n paar pitte na te boots en op die ou end het ons opgekom met die volgende vorms wat ons kon sny.
Die finale produk kan moeilik die werklikheid simuleer, maar dit was vir ons ‘n stukkie wonder om deur hierdie proses te kon gaan. Ek vertrou dat julle ook iets kan sien vir wat ons kon ervaar. Allhoewel die komponente wat ons gebruik het baie klein was om aanmekaar te sit, was ons bly om dié blom te kon bou.
Baie goeie artikel. Dankie.